Algemene Navrae

1.Wat is die tipe musiek wat julle speel op troues en ander funksies?
Ons kan nooit voor die tyd sê nie. Ons ken nie die gaste nie en daar is baie dinge wat ‘n dans kan beïnvloed. Ons Dj’s word opgelei om die gehoor te lees en daarvolgens musiek te speel. Om voor die tyd te sê ons gaan soveel “two step” speel en soveel walse sal net doodeenvoudig ‘n leuen wees.

2.Wat beïnvloed die dans?

Die grootte en gladheid van die dansbaan, of dit ‘n warm of koue dag is, die aantal jong mense, of daar onlangs dood in die familie was, wanneer die twee families nie oor die weg kom nie, die tyd wat die dans begin. Enigiets na 22:00 is fataal.

3.Die agtergrond musiek voor die dans of tydens die ete. Wat is dit en hoe werk dit?
Ons het drie tipes agtergrondmusiek – luister, agtergrond en klassiek. Die luister musiek is tipiese rustige musiek wat jy op ‘n Sondagmiddag oor die radio hoor. Dit is gewilde musiek deur gewilde kunstenaars. Hierdie tipe musiek kan ‘n mens speel soos die gaste aankom en inkom om te sit. Die agtergrond is alles instrumentele musiek wat deur die ete gespeel word. Panfluit, Kenny G, Nikos, Tol en Tol ens. Klassiek is meer vir baie formele troues en/of werksfunksies en word slegs op versoek gespeel.

4.Kan ons vir julle ‘n lang lys musiek gee wat ons graag gespeel wil hê?
Dit is nie aanbevole nie en ons doen dit glad nie. ‘n Belangrike aspek op hierdie vraag is dat die bruidspaar op die aand meer aan die kuier en groet is as om te dans. Nou kies hulle die musiek, hulle gaste hou dalk nie daarvan nie, en die ergste is dat hulle nie eers dans nie. Nou sit die DJ en die gaste opgeskeep met ‘n lys wat nie werk nie.

5.Kan ons ten minste net ‘n kort lys opstel van ‘n paar van ons gunstelinge en ook liedjies wat ons glad nie wil hoor nie?
Met plesier. Die lys van liedere wat julle grief of glad nie wil hoor nie is natuurlik die belangrikste.

6.Is dit moontlik dat iemand oor julle mikrofoon vir ons kan sing?
Ja dit is. Belangrik is dat ons stelle net een mikrofoon op ‘n slag kan hanteer en hulle het nie die “echo en reverb” funksie nie. Die “backtracks” van die liedjies moet ook op CD aan ons verskaf word. Ons verkies egter dat sangers hul eie mikrofoon verskaf.

7.Daar gaan ‘n orkes op ons ook speel. Mag hulle oor julle luidsprekers speel? Nee glad nie. Die klankversterkers wissel te veel en die meeste orkeste speel baie hard en 90% van die tyd pas die kabel tipes nie.

8.Hoe hard speel julle en is julle luidsprekers groot genoeg vir 300 gaste?
Ons speel gewoonlik te sag. Te sag is meer aanvaarbaar en julle kan kom vra om die musiek harder te sit. Ja, ons luidsprekers kan 300 met gemak akkommodeer. Ons het stelle wat tot en met 1000 gaste kan akkommodeer. Dit moet ook net vooraf met ons gereël word en die fooi hiervoor is natuurlik ‘n bietjie meer.

9.Wat trek julle Dj’s aan?
Indien julle niks spesifiek voorskryf nie, trek hulle ‘n netjies hemp en langbroek aan met bypassende skoene.

10.Kan julle vir ons ook die klank en musiek by die kapel of kerk speel?
Ja. Die kostes is R250-00 ekstra. Daar word dan ‘n mikrofoon vir die diens opgeslaan en daar kan ander musiek gespeel word. Ons voorsien glad nie gesange en liedere op CD nie. Indien u dit self voorsien is u welkom.

11.Moet ons vir die Dj’s aan die gaste se tafels plek gee om te sit of op hulle eie tafel?
Nee dit is nie nodig nie. Al ons Dj’s verkies om sommer daar agter die naambord by die disko te eet. Hy moet so baie kere die mikrofoon beheer op snaakse tye dat dit te veel van opspring kos as hy te ver is. Hy moet in elke geval ook na die agtergrondmusiek omsien. Daar kan asseblief net vir die onthaalsaal gevra word om hom vroegtydig van ‘n mes en ‘n vurk te voorsien.

12.Wat het julle nodig by die saal?
Ons is baie maklik. Daar moet net as ons daar aankom ‘n tafel reg wees op die plek wat julle vooraf met die saal gereël het, sowel as twee stoele. Hy moet ‘n tafeldoek en ‘n val hê sodat die gaste nie onder die tafel kan inkyk en die kabels daar sien lê nie. Ons het ons eie kabels en proppe.

13.Moet ons vir die Dj’s van kos en drank voorsien?
Ja kos, maar dit is nie nodig om vir hulle drank te betaal nie.

14.Ons wil ook CD’s vir julle gee om te speel.
Kan ons en wanneer gee ons dit vir julle? Julle kan dit op die aand van die funksie vir die DJ gee. Die liedjies wat julle gespeel wil hê moet binne mooi gemerk wees. Julle is self verantwoordelik om die CD’s na die tyd by die DJ te kry.

15.Ons sien julle het ‘n naambord. Ons hou nie daarvan nie. Wat nou?
Wel die naambord het baie doele. Die eerste is natuurlik vir advertensie sodat ons die musiek so goedkoop moontlik aan julle kan verskaf. Die tweede is om al die bedrading, die mixer, die DJ se ete ens. te versteek. Die naambord is met ligte grys mat oorgetrek en flikker of beweeg nie. Die is nie ‘n seer oog nie.

16.Hoe laat gaan julle by die onthaal wees?
Die Dj’s word aangesê om te begin opslaan die tyd wat julle diens begin. M.a.w. indien julle 16:00 in die kapel trou, dan is hulle 16:00 by die onthaal. Dit vat hulle 15 minute om op te slaan – meer as genoeg tyd. Indien julle op dieselfde perseel trou as die onthaal kom hulle so ± 15 minute vroeër as gewoonlik.

17.As julle vir ons klank in die diens moet doen, hoe laat is julle daar?

Die Dj’s word aangesê om ‘n uur voor die diens by die Kerk/Kapel te wees om te begin opslaan, byvoorbeeld as julle 16:00 trou, sal die DJ teen 15:00 by die Kerk/Kapel wees. Weereens neem dit ons ±15 minute om op te slaan.

18.Wat benodig julle in die Kapel/Kerk?

Een tafel met ‘n tafeldoek en tafelval om, sowel as twee stoele.

19.Kan die mense die Dj met versoeke peper?
Ja. Hy verkies dit so want dan kry hy gouer ‘n idee van wat die groep se smaak is. Elke DJ het ‘n alfabetiese lys musiek by hom en kan hy vir die gaste byna onmiddellik sê of hy die lied het of nie. Hy het ook ‘n lys kunstenaars wat beskikbaar is.

20.Sit julle die bruidegom af met geluide en vulgêre goed?
Nee, maar ons sit hom wel af met oorspronklike goed wat min mense al gehoor het. Dit is kostelik en snaaks. Jy kan natuurlik versoek om hom nie af te sit nie, maar dit laat die troue dood en baie formeel.

21.Uit julle baie Dj’s, hoe kies julle die Dj vir ons funksie?
Julle moet net onthou dat enige een van ons Dj’s op enige funksie kan musiek maak. Ons kies die Dj maar net volgens sy eie persoonlike smaak wat afgelei kan word uit julle voorkeure en afkeure. Dit is maar net sodat die Dj ook bietjie van sy eie smaak dan ook by julle funksie voeg. As hy glad nie van julle funksie se musieksmaak hou nie, speel hy soos wat hy opgelei en betaal word om te doen.

22.Kan ons die Dj voor die tyd sien?

Nee ongelukkig nie. Dit is nou waarvoor julle op Magic Melodies besluit het. As julle Dj voor die tyd siek word of in ‘n ongeluk is op pad funksie toe, kan hy binne 1 uur met ‘n ander vervang word. Daarom is dit noodsaaklik dat alle inligting, notas, moets en moenies, met ons kantoor bespreek word en waar ons dan “jobkaarte” uitmaak en dit vir die betrokke Dj’s gee.